top of page

My Genadepad

Ek is Alicia - vrou, mamma, immigrant en die hart agter Komyn & Komyntjie.


My lewe bestaan nie net uit die mooi hoofstukke wat mens maklik deel nie. Daar was ook
hoofstukke wat my gevorm, gebreek, verander en uiteindelik nader aan God gebring het.
My pad was nie altyd eenvoudig nie.

 

Ek het deur seisoene van verlies, gebrokenheid, verkeerde
keuses en diep persoonlike worsteling gestap. Daar was tye waarin die lewe baie anders gelyk het
as wat ek ooit vir myself beplan het - tye waarin ek moes leer om weer op te staan, weer te vertrou
en God opnuut in die middel van my storie te vind.

 

Daar is hoofstukke wat ek eens gewens het ek kon uitskeur. Vandag kyk ek anders daarna. Dit is
juis deur sommige van daardie moeilike hoofstukke wat God my gevorm het, my nader aan Hom
getrek het en my hart sag gemaak het vir ander wat ook deur hulle eie seer stap.


TOE KOM NOG 'N HOOFSTUK: EMIGRASIE


In Desember 2023 het ons as gesin Suid-Afrika verruil vir Australië.
Ek het gedink emigrasie gaan hoofsaaklik oor 'n nuwe land, nuwe geleenthede en 'n nuwe begin.
Ek het nie besef hoeveel van jouself jy saam in daardie tasse pak nie.
Die verlange. Die skuldgevoel. Die alleenheid. Om jou kinders te sien aanpas terwyl jy self probeer
sterk wees. Om tussen twee wêrelde te leef en soms nie heeltemal te weet waar "huis" meer is nie.
Dit het nog 'n laag van my eie verhaal oopgemaak - en daarmee saam 'n hart vir ander immigrante
wat dieselfde pad stap.


KOMYN & KOMYNTJIE


Komyn & Komyntjie het nie ontstaan omdat ek eendag besluit het ek wil 'n mooi handelsmerk bou
nie. Dit het gegroei uit my eie reis met God.
Uit gebrokenheid. Uit vrae. Uit herstel. Uit die besef dat daar soveel mense is wat glimlag terwyl
hulle eintlik net iemand nodig het wat sê:
"Ek sien jou. Jy hoef nie hierdie hoofstuk alleen te stap nie."


Vandag lei ek 'n Afrikaanse aanlyn Bybelstudie waar vroue van verskillende lande saam die Woord
ontdek. Ek deel immigrante se stories, praat oor geloof en herstel, en kry die voorreg om by
geleenthede my getuienis en boodskap te deel.

 

Ek bied ook geloofsgebaseerde een-tot-een ondersteuningsgesprekke aan, en is tans besig met
my Advanced Diploma in Psychology, Counselling & Mental Health om myself verder toe te
rus.

 

Maar vóór enige titel is ek steeds net Alicia.
'n Vrou.
'n Mamma.
'n Immigrant.
Iemand wat self nog groei.
Iemand wat steeds vir God nodig het.

 

DIE HART AGTER DIT ALLES


Ek wil nooit voor mense staan as iemand wat alles uitgesorteer het nie. Ek wil langs hulle staan.
Want ek glo nie jou gebrokenheid diskwalifiseer jou nie. Ek glo nie jou verlede kry die laaste sê oor
jou toekoms nie. And ek glo beslis nie dat God net die mooi hoofstukke kan gebruik nie.
Sommige van die hoofstukke wat ons die graagste sou wou uitskeur, word
later die bladsye waarmee God iemand anders hoop gee.
Dit is my genadepad.
En dalk, terwyl jy hier lees, is jy nog besig om joune te stap.


Welkom. Daar is plek vir jou hier.

bottom of page